Jubelkoorkonsert saam met Amanda Strydom: Sondag, 5 April 2020 om 15:00

Geskiedenis


Goue stemme in hul goue jare

Die eerste koor, 1975. Una Steyn is voor regs. (in die swart).

Die Jubelkoor het sy ontstaan in 1975 gehad onder die vaandel van die NG Kerk in Jeffreysbaai, Oos-Kaap. Hul eerste optrede was tydens die inhuldiging van die eerste NG Kerkgebou in dié dorp. Aanvanklik is hulle die Jeffreysbaaise NG Kerkkoor genoem.  Die koorleidster in daardie tyd was Una Steyn, ‘n streng perfeksionis wat haar opleiding by die musiekkonsevatorium in Londen gekry het. Sy het die koor met 20 koorlede begin. Vandag is die ledetal 55.

Die sukses van die Jubelkoor kan grotendeels toegeskryf word aan sy stabiele aard. Oor die afgelope 42 jaar was daar slegs vier permanente koorleidsters, waarvan die huidige leidster, Annatjie Smit al 18 jaar aan die stuur is.

Jubelkoor, 2019
Selfs die koorlede kom om te bly. Drie van die koorlede sing in die koor sedert sy ontstaan en die meerderheid is al lede vir ‘n dekade of meer. Al die koorlede het voorheen in ander kore gesing en bring dus baie jare se koorervaring saam met hulle.

Die gemiddelde ouderdom van die Jubelkoorlede is 70 jaar.  Die jongste lid is 55 en die oudste 83. Maar, te danke aan die koorleidster se goeie opwarmingstegnieke, fyn oor, unieke dirigeertegnieke en deurdagte kooropstelling is die koorklank egter suiwer en die balans tussen die stemme en die stempartye ewewigtig. 

Nog uitsonderlike eienskappe van hierdie getroue groep in hul herfsjare is die kameraderie, meelewing en geesdrif waarmee hulle mekaar aanspoor en bemoedig. Die Jubelkoor is nie slegs ‘n koor nie, dis ‘n blymoedige omgeegroep wie se missie, naamlik om te Jubel in Jesus, gereflekteer word in hul naam en karakter.

Hoewel die koor meestal met orrel of klavierbegeleiding sing, is baie van hul koorstukke a cappella. Hul repertorium wissel van verwerkte kerkmusiek tot unieke koorstukke geskryf deur van die Jubelkoorlede self. Hulle skroom ook nie om groter komposisies aan te pak nie. Die debuutuitvoering van Louis Fourie se Kruisfeeskantate, ‘n Bauernmesse (‘n mis vanuit die Duitse landelike gebiede), en verskeie Paasfees- en Kerskantates is al deur hulle uitgevoer.

Vir die Jubelkoor is die geheelindruk tydens ‘n opvoering baie belangrik. Hul formele, swart koordrag word opgekikker met bybehore waarvan die kleur by die geleentheid pas, byvoorbeeld purper vir Paasfees, en rooi of goud vir Kersfees. Die hoofkleur is egter turkoois, tekenend vandie branders waarvoor Jeffreysbaai bekend is.

Om toe te sien dat die koorlede se aandag gefokus bly op sang, het die Jubelkoor ‘n koorkomittee wat omsien na die administratiewe- en ander belange van die koor. Ses gekose koorlede verrig hierdie take. ‘n Beskermheer vanuit die geledere van die kerk se beheerliggaam, sorg dat die koor se belange ook dáár aandag geniet.

Fanie Smit, voormalige 
 aanbieder van RSG se 
Loof die Here.


Per geleentheid tree die Jubelkoor op as gasheer vir kore van elders, soos die George-mannekoor en Cantando@bloem van Bloemfontein. Die Jubelkoor word ook dikwels genooi om by ander kerke in Jeffreysbaai asook kerke in naburige dorpe soos Uitenhage, Kareedouw of Humansdorp te sing. Hulle het ook al, op uitnodiging,verskeie uitvoerings by etensuurkonserte in die Veremarksaal in Port Elizabeth gehad asook deelgeneem aan massakooroptredes daar.

Onlangs is die koor deur ‘n koormeester van Kanada, prof Don Grigg, besoek. Hy kon nie uitgepraat raak nie oor die koor se jeugdige klank, kwaliteit en afronding.  Bekende musici soos Richard Cock, Bouwer van Rooyen, prof Albert Troskie, Christiaan Carstens, Jan-Erik Swart en Fanie Smit het die koor al gekomplimenteer oorhul professionele aanslag en vertolking.By ‘n kunsfees waaraan die Jubelkoor deelgeneem het,het sanger, Louis Loocke na die koorverwys as “Goue stemme in hul goue jare” en vir die koor ‘n A++ toegeken.

Die koor het reeds vier kompakskywe (CD’s) uitgegee. Verskeie van die koorstukke op die CD’s is op die RSG-program Loof die Here en onlangs op Pretoria FM se Sondagaand-programme, Sing tot die Heer, en Rondom die Orrel en sy Meesters gespeel.