Jubelkoorkonsert saam met Amanda Strydom: Sondag, 5 April 2020 om 15:00

29.10.19

Jubelkoor tree op by Kragga Kamma

“Juig, die Here IS die Koning!” het die Jubelkoor vierstemmig uitbasuin in die pragtige, klankluidende Kragga Kamma NG kerk, waar Hervormingsweek Sondag, 27 Oktober, 2019 gevier is.

Die koor moes reeds om 10:30 per bus na Port Elizabeth vertrek om betyds te wees vir die massakooroefening wat om 12:00 ‘n aanvang sou neem. Hulle is hartlik verwelkom met ‘n koppie koffie en heerlik tuis laat voel deur die Kragga Kamma-gemeentelede. Die Lofsangkonsert het om15:00 begin.

Die geleentheid is voorafgegaan met orrelspel deur Bouwer van Rooyen en Benji de Lange, waarna ‘n massakoor van bykans 100 koorlede ‘n verwerking van Psalm 98, (New Songs of Celebration) harmonieus-musikaal uitgebulder het. Toegegee, ‘n deelse rede vir die entoesiasme kon ook dalk toegeskryf gewees het daaraan dat die koorlede pas verneem het van die Springbokke se halfeindrondte Wêreldbekeroorwinning oor die Walliesers. Die Jubelkoorlede het die baie moeilike besluit moes neem om pligsgetrouheid voor plesier te stel, en hul plekke vroom op die koorbanke ingeneem maar, skelmpies die wedstryd op hul selfone gevolg.


Die gasheerkoor, Cantando@Algoa se voorsitter, Logy Murray het ‘n uitmuntende program met voorlesings, afgewissel met solo-, gemeente- en koorsang opgestel. Die Jubelkoor het maande voor die tyd daaraan geoefen. Die rugbywedstryd is maar onlangs rugbaar gemaak, en daar was nie nou omdraaikans nie.

Die tema van die middag het gefokus op die 5 “Sola’s” van die Hervorming: Sola Scriptura, Sola Fide, Sola Gratia, Sola Christus en Soli Deo Gloria (Slegs die Woord, Slegs Geloof, Slegs Genade, Slegs Christus en Slegs aan God die eer.)

Koor
Een van die koorstukke wat die Jubelkoor opgevoer het was toe ook inderdaad Soli Deo Gloria. Die ander twee was Psalm 93 en Hoe lieflik is Sion. Pragtig-ondersteunende begeleiding is waargeneem deur Miemie Hüsselmann en Annatjie Smit het met onberispelike presiesheid die Jubelkoor onderhande geneem.

Bouwer van Rooyen was die Cantando@Algoa- en die massakoordirigent en sy
begeleier die bekwame Hanlie Young. Die clarinet is behendig bespeel deur Tiaan Uys en Curtleigh Koopman het luister verleen aan twee van die jubelende massakooritems met sy trompetgeskal.

Pragtige werke van Beethoven, Bach en Händel het sy aan sy gestaan met onder andere Martin Nystrom se “Wildsbok” en ‘n unieke, moderne, ritmiese vertolking van Izak Roux se “Dona Nobis”. Elke koorstuk is met sorg gekies om luister te verleen aan die middag se hooftema.

Aan die einde van die konsert is die gehoor uit die kerk uit begelei met ‘n grootse vertolking van Max Reger se Ein’ Feste Burg ist unser Gott deur Marilise van Rooyen op die orrel. Daarna het die gaste en gashere/dames heerlik gesellig verkeer en versnaperings en koffie geniet wat in die saal deur die Kragga Kamma-gemeente keurig voorgesit is.