Jubelkoorkonsert saam met Amanda Strydom: Sondag, 5 April 2020 om 15:00

12.11.19

Jaareindfunksie, 2019

See, son en sang!

Dit was die tema van die Jubelkoor se afsluitingsfunksie hierdie jaar.

Die tafels is behang met sandkleurige goiingsak-tafeldoeke en versier met klippe en skulpe van Jeffreys se pragtige strand.

Koorlede het vooraf leë blikkies gebring en Isabel het hulle kunstig versier met sand, skulpe en klein sambreeltjies. Blou, groen en wit serviette is in die versierde blikke gedruk en toe op die tafel geplaas. Die geheelindruk was dié van golwe op die strand.

Plekmatjies met kleurfoto’s van verskeie tonele van Jeffreysbaai se mooi strande het die gaste gou aan die bespiegel gehad oor watter foto dan nou wáár geneem is.



Op die verhoog, agter die tafel met sjerrie, het ‘n enorme blou en wit ruiker soos ‘n uitroepteken ‘n besonderse olieverfskildery beklemtoon wat spesiaal deur Donette Pretorius (een van die koorkomiteelede) vir die geleentheid gemaak is. Johan van Vuuren se blink plan om ‘n onopsigtelike flitslig te laat skyn op die grootste brander, het die skildery laat lewe. Koorlede is in die atmosfeer ingetrek terwyl hulle rondgestaan en ‘n glasie sjerrie in die kerslig geniet het.

Na die verwelkoming is die sappigste Karoo lam voorgesit saam met heerlike aartappelslaai, kerrieboneslaai en ‘n mengelslaai.

Terwyl die kos kansgegee is om te sak, het Annatjie die bedankings gedoen.
Daarna het die gaste smullekker warm malvapoeding met vla geniet.


Daar is dik stukke gekuier, en nuwe vriende is gemaak. Twee koorlede, en een se gade het selfs ontdek dat hulle meer as vyftig jaar gelede op dieselfde skoolbanke gesit het, en nog boonop op dieselfde dag verjaar.

Hierdie besondere gesellige byeenkoms was ‘n geleentheid waar koorlede die kans gegun is om mekaar se wêrelde te ontdek en waarin bande tussen hulle en hul anderhelftes gesmee en/of versterk is.