Jubelkoorkonsert saam met Amanda Strydom: Sondag, 5 April 2020 om 15:00

6.12.19

Dennis en Mari tree af

Twee van die Jubelkoor se staatmakerlede, Dennis en Mari Bestbier, het hul uittrede bekend gemaak. Hulle was veertien jaar lank deel van die koor.

Dennis was ‘n sleutelstem in die bas-geledere. Hy het die vertolkingsmetode van elkeen van die etlike sangstukke wat die Jubelkoor al gesing het, onthou.

Verder het hy ‘n fyn oor wat sommer dadelik ‘n wegdwaalnoot kon optel asook die oortreder daarvan kon uitwys. Die manne het na hom opgesien. Hy was as’t ware die “hoofseun” van die basse. Sy plek sal moeilik gevul kan word.

Marí se hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Sy was vir twee jaar lank ‘n koorkomiteelid en was altyd gewillig om te help. Marí het die pragtigste gekleurde sakdoeke vir die koormans as bybehore ontwerp en gemaak. Geen moeite was vir haar te veel om nét die regte materiaal te bekom nie.

Sy en Dennis het dikwels Port Elizabeth toe gery omdat sy nie tevrede was met dit wat plaaslik verkrygbaar was nie. Marí het alt gesing in die koor en ook háár plek sal moeilik gevul kan word.

Die Jubelkoor het aan Dennis en Marí erelidmaatskap toegeken. Die geliefde egpaar het ingestem om, vir ‘n laaste keer, in die nuwe jaar by Ds Evert de Kock se afskeid te kom saamsing.