Jubelkoorkonsert saam met Amanda Strydom: Sondag, 5 April 2020 om 15:00

4.12.19

Kerssangdiens, 2019


En watter besonderse, feestelike geleentheid was dit nie!

Die bloedrooi bybehore van die koorlede het die toon aangegee – Dis Kersfees; Vreugde en Vrede vir julle!

Di Sas Swart en Janida van der Westhuizen het die boodskap verder gevoer met gepaste tekste wat die verkondiging van die geboorte van die Saligmaker onderskryf het.


Meesterlike spel deur ‘n trio van tjello, viool en fluit gespeel deur, onderskeidelik, Annemarie Seranio, Liesl Clayton en Lisa Klopper het die stemming vooraf geskep en op gepaste tussenposes luister verleen aan die program.

Die damessanggroep, Perlavita het met hul fyn stemme die geboortenag in twee sangstukke vertolk: Stil! Stil! Stil! en All on a Silent Night, terwyl die Jubelkoor die verhaal verder gevoer het in Heil’ge Nag en Whisper! Whisper!

Die grootse loflied, Psalm 117 is foutloos vertolk onder leiding van koorleier, Annatjie Smit, met pragtige begeleiding deur Miemie Husselmann.

Die woorde, “Loof die Heer! Loof die Heer! Loof die Heer! Loof die Heer!” om die beurt eers laag gevat deur die basse, toe effens hoër deur die alte, daarna die tenore en laastens, op ‘n hoë noot deur die soprane, het soos ‘n ego deur die Kompleks weergalm: “Want sy goedertierendheid is geweldig oor ons. En die trou van die Heer staan tot in ewigheid!”

Ná die hoogtepunt het die gemeente staande en dawerend, Getuig! Getuig! Vertel! Vertel! gesing op die wysie van Jerusalem.

‘n Prag Kersprogram, voorwaar. Waarvan die boodskap nog lank in gemeente se gemoedere sal bly vassteek.