Jubelkoorkonsert saam met Amanda Strydom: Sondag, 5 April 2020 om 15:00

21.5.20

Konsertinkomste vir kos geskenk

Die Amanda Strydomkonsert wat op 5 April 2020 gehou sou word, is
noodgedwonge gekanselleer met die koms van Covid-19.

Altesame 133 kaartjies is verkoop. Nadat alle kaartjiehouers genader is, het enkeles hul geld teruggevra. Die res het ingestem om hul geld vir voedselhulp te skenk. 'n Gedeelte is aan die kerk en gedeelte aan 'n plaaslike voedingsprojek oorbetaal.

Diegene wat hul kaartjiegeld aan laasgenoemde geskenk het, kan gerus wees: elke sent daarvan gaan vir kospakkies vir behoeftiges. Daarvan maak ‘n span van vyf mense wat elk ‘n noodlenigingsorganisasie verteenwoordig, doodseker.

Ons berig graag oor hul werk.

Die idee dat organisasies plaaslik saamwerk, het spontaan gebeur. Ná President Ramaphosa se aankondiging van inperking, het die Kouga munisipaliteit die Pellsrus-woonwapark geïdentifiseer as ‘n huisvestigingsterrein vir haweloses. Daarna het iemand tente geskenk en hulle opgeslaan.

Uit voorgaande is The Bay Past Co Hub gebore met ‘n span van vyf aan die stuur.

 

Die eerste en tweede lid van die span is Buks Coetzee en Maritza Robyn van Fish and Bread ministries. Hulle het aangebied om vir die haweloses drie maaltye per dag te kook en af te lewer. Hulle was die eerste lede van ‘n span van vyf.

Die derde lid, Sonya Doris het haar restaurant, The Bay Pasta Co se kombuis aan Buks en Maritza beskikbaar gestel. Dié afsetgebied het toe as “The Hub” (middelpunt) bekend begin staan. Gou het skenkings begin inrol. Boere het groente kom aflewer en mense het geld geskenk. Dit was nie nodig om te adverteer nie. Die boodskap het op sosiale media versprei en binne ‘n paar dae het Buks, Maritza en Sonya besef dat hulle genoeg kos inkry om nie slegs die haweloses te voer nie, maar ook kospakkies op te maak.

Die vierde gedugte lid van die span van vyf, Libby Seymour van Jbay Recycle het bygekom. Sy doen ‘n daaglikse rondte by al die winkels en prys produkte voordat sy besluit wat die inhoud van die kospakkies moet wees. Elke kospakkie kry ook vars vrugte en/of groente wat gereeld deur boere afgelewer word.

Verlede week is hulle byvoorbeeld in kennis gestel van 'n paar ton aartappels wat op pad is. Desperaat het hulle gewonder waar om dit te berg toe ‘n man instap en sy leë winkel vir hulle aanbied.

Die vyfde lid van dié Span van Vyf is Evelyn Markides van Happy Hands. Sy hanteer die projek se dokumentering op die rekenaar. Alles wat inkom word opgeskryf. Alles wat uitgaan ook. Daagliks word die lys van versoeke langer. Evelyn vergelyk die gegewens met ‘n lys van ontvangers van ‘n staatstoelae.

Mense wat reeds ‘n toelae ontvang, word nie in ag geneem vir ‘n kospakkie nie.

Die veiligheidsmaatskappy, Smhart se manne en ‘n aantal branderplankryers onder leiding van Chokka Trahms het aangebied om betrokke geraak. Hulle het in spanne opgedeel en uitgegaan om die nood in Kouga te bepaal. Elke persoon wat ‘n kospakkie versoek, moet ‘n vorm invul met sy/haar besonderhede asook die hoeveelheid mense in die gesin. Lyste is saamgestel en areas toegeken aan elke span. Die spanlede het dié gesinne waar hulle kospakkies aflewer, leer ken en ‘n vertrouensverhouding met hulle begin bou. Sodoende is kontroles versterk.

Kerke ondersteun ook The Hub en ag dit ‘n perfekte afsetgebied vir kospakkies vir hul hulpbehoewendes. Die NG Kerk is ook ‘n ondersteuner.

Daar is ook ‘n klerebank en iemand wat daagliks omsien na die honger troeteldiere in Jeffreysbaai.

Elke dag van 07:00 tot 19:00 is The Bay Pasta Co ‘n miernes van bedrywigheid. Om die beurt word 10 000 kospakkies in Humansdorp, Oceanview, Pellsrus, C-plek en Wavecrest elke maand afgelewer.

Elke dag word daar groot potte kos gemaak vir die haweloses. Elke dag sorteer en maak ‘n handjievol werkers kospakkies op. Elke dag gaan die Smhart-bakkies met jong manne uit en lewer die kospakkies af. Al die betrokke mense werk met groot entoesiasme en sonder aansien of vergoeding. Hierdie is ‘n Ubuntu-projek wat strek oor klas, credo, kleur en kultuur – ‘n vergestalting van die reënboognasie-droom.