Jubelkoorkonsert saam met Amanda Strydom: Sondag, 5 April 2020 om 15:00

10.2.20

Hartsmusiek op 'n herfsmiddag

Amanda Strydom
Afrikaanse kabaret-diva, Amanda Strydom tree Sondag, 5 April 2020 om 15:00 in die NG Kerk in Da Gamaweg as gas van die Jubelkoor op. Sy sal ook saam met die koor ‘n item of twee sing.

Amanda is ‘n boorling van die Oos Kaap, en kom kuier gereeld vir haar ouers, wat
hier in Jeffreysbaai woon. Strydom is in Port Elizabeth gebore en het matriek by Framesby High School voltooi.

Hoewel sy geen formele musiekopleiding gehad het nie, het musiek van kleinsaf ‘n groot rol in Amanda lewe gespeel. Sy het in haar onderskeie skole se kore gesing asook drama-klasse geneem by die Kinderteater in Port Elizabeth.

Ná skool het sy ‘n BA-graad by die Universiteit van Pretoria voltooi waar sy in Drama gespesialiseer het. Hierdie veelsydige kontralto se sang- en toneelloopbaan strek oor meer as vyftig baie bedrywige jare.

Benewens veelvuldige, landswye verhoog- en televisieoptredes, het Amanda ook al vertonings in Nederland en België gelewer. Sy het haar eerste sangstuk, Ek Loop Die Pad, in 1979 gekomponeer. Dit was ‘n groot treffer en is steeds hoog op enige musiekliefhebber se gewildheidslys.

Sedertdien skep Strydom die lirieke van die meeste van die liedjies in haar repertoire of diskografie. Omdat sy nie musiek kan lees of skryf nie, skryf sy slegs die woorde en maak dan gebruik van komponiste soos Janine Neethling, Didi Kriel, Lize Beekman, en ander musiekkenners om dit te toonset.

Gedurende haar optredes, sing Amanda Strydom hoofsaaklik haar eie komposisies. Maar, haar program sluit ook dikwels werke in van Koos du Plessis, Stef Bos, José Feliciano, Kris Kristofferson, Holly Cole en George Gershwin. Ons voel besonder geëerd om vermaak deur só ‘n besonderse, bekwame en ervare kunstenaar te kan aanbied. Haar warm en hartlike persoonlikheid kan net kleur verleen aan Hartsmusiek op ‘n Herfsmiddag.

Kunstenaar: Amanda Strydom
Datum: Sondag, 5 April, 2020
Tyd: 15:00
Plek: NG Kerk, Da Gama
Toegang: R60
Kaartjies kan by enige lid van die Jubelkoor bekom word.