Jubelkoorkonsert saam met Amanda Strydom: Sondag, 5 April 2020 om 15:00

21.5.20

Konsertinkomste vir kos geskenk

Die Amanda Strydomkonsert wat op 5 April 2020 gehou sou word, is
noodgedwonge gekanselleer met die koms van Covid-19.

Altesame 133 kaartjies is verkoop. Nadat alle kaartjiehouers genader is, het enkeles hul geld teruggevra. Die res het ingestem om hul geld vir voedselhulp te skenk. 'n Gedeelte is aan die kerk en gedeelte aan 'n plaaslike voedingsprojek oorbetaal.

Diegene wat hul kaartjiegeld aan laasgenoemde geskenk het, kan gerus wees: elke sent daarvan gaan vir kospakkies vir behoeftiges. Daarvan maak ‘n span van vyf mense wat elk ‘n noodlenigingsorganisasie verteenwoordig, doodseker.

Ons berig graag oor hul werk.

Die idee dat organisasies plaaslik saamwerk, het spontaan gebeur. Ná President Ramaphosa se aankondiging van inperking, het die Kouga munisipaliteit die Pellsrus-woonwapark geïdentifiseer as ‘n huisvestigingsterrein vir haweloses. Daarna het iemand tente geskenk en hulle opgeslaan.

Uit voorgaande is The Bay Past Co Hub gebore met ‘n span van vyf aan die stuur.

 

Die eerste en tweede lid van die span is Buks Coetzee en Maritza Robyn van Fish and Bread ministries. Hulle het aangebied om vir die haweloses drie maaltye per dag te kook en af te lewer. Hulle was die eerste lede van ‘n span van vyf.

Die derde lid, Sonya Doris het haar restaurant, The Bay Pasta Co se kombuis aan Buks en Maritza beskikbaar gestel. Dié afsetgebied het toe as “The Hub” (middelpunt) bekend begin staan. Gou het skenkings begin inrol. Boere het groente kom aflewer en mense het geld geskenk. Dit was nie nodig om te adverteer nie. Die boodskap het op sosiale media versprei en binne ‘n paar dae het Buks, Maritza en Sonya besef dat hulle genoeg kos inkry om nie slegs die haweloses te voer nie, maar ook kospakkies op te maak.

Die vierde gedugte lid van die span van vyf, Libby Seymour van Jbay Recycle het bygekom. Sy doen ‘n daaglikse rondte by al die winkels en prys produkte voordat sy besluit wat die inhoud van die kospakkies moet wees. Elke kospakkie kry ook vars vrugte en/of groente wat gereeld deur boere afgelewer word.

Verlede week is hulle byvoorbeeld in kennis gestel van 'n paar ton aartappels wat op pad is. Desperaat het hulle gewonder waar om dit te berg toe ‘n man instap en sy leë winkel vir hulle aanbied.

Die vyfde lid van dié Span van Vyf is Evelyn Markides van Happy Hands. Sy hanteer die projek se dokumentering op die rekenaar. Alles wat inkom word opgeskryf. Alles wat uitgaan ook. Daagliks word die lys van versoeke langer. Evelyn vergelyk die gegewens met ‘n lys van ontvangers van ‘n staatstoelae.

Mense wat reeds ‘n toelae ontvang, word nie in ag geneem vir ‘n kospakkie nie.

Die veiligheidsmaatskappy, Smhart se manne en ‘n aantal branderplankryers onder leiding van Chokka Trahms het aangebied om betrokke geraak. Hulle het in spanne opgedeel en uitgegaan om die nood in Kouga te bepaal. Elke persoon wat ‘n kospakkie versoek, moet ‘n vorm invul met sy/haar besonderhede asook die hoeveelheid mense in die gesin. Lyste is saamgestel en areas toegeken aan elke span. Die spanlede het dié gesinne waar hulle kospakkies aflewer, leer ken en ‘n vertrouensverhouding met hulle begin bou. Sodoende is kontroles versterk.

Kerke ondersteun ook The Hub en ag dit ‘n perfekte afsetgebied vir kospakkies vir hul hulpbehoewendes. Die NG Kerk is ook ‘n ondersteuner.

Daar is ook ‘n klerebank en iemand wat daagliks omsien na die honger troeteldiere in Jeffreysbaai.

Elke dag van 07:00 tot 19:00 is The Bay Pasta Co ‘n miernes van bedrywigheid. Om die beurt word 10 000 kospakkies in Humansdorp, Oceanview, Pellsrus, C-plek en Wavecrest elke maand afgelewer.

Elke dag word daar groot potte kos gemaak vir die haweloses. Elke dag sorteer en maak ‘n handjievol werkers kospakkies op. Elke dag gaan die Smhart-bakkies met jong manne uit en lewer die kospakkies af. Al die betrokke mense werk met groot entoesiasme en sonder aansien of vergoeding. Hierdie is ‘n Ubuntu-projek wat strek oor klas, credo, kleur en kultuur – ‘n vergestalting van die reënboognasie-droom.

10.2.20

Hartsmusiek op 'n herfsmiddag

Amanda Strydom
Afrikaanse kabaret-diva, Amanda Strydom tree Sondag, 5 April 2020 om 15:00 in die NG Kerk in Da Gamaweg as gas van die Jubelkoor op. Sy sal ook saam met die koor ‘n item of twee sing.

Amanda is ‘n boorling van die Oos Kaap, en kom kuier gereeld vir haar ouers, wat
hier in Jeffreysbaai woon. Strydom is in Port Elizabeth gebore en het matriek by Framesby High School voltooi.

Hoewel sy geen formele musiekopleiding gehad het nie, het musiek van kleinsaf ‘n groot rol in Amanda lewe gespeel. Sy het in haar onderskeie skole se kore gesing asook drama-klasse geneem by die Kinderteater in Port Elizabeth.

Ná skool het sy ‘n BA-graad by die Universiteit van Pretoria voltooi waar sy in Drama gespesialiseer het. Hierdie veelsydige kontralto se sang- en toneelloopbaan strek oor meer as vyftig baie bedrywige jare.

14.12.19

Lamb of God


LAMB OF GOD is gebaseer op die Adagio Cantabile-gedeelte van “Grande Sonate Pathétique” deur Ludwig von Beethoven. Die woorde en koorverwerking is gedoen deur Michael Barrett en David Angerman.

Die Jubelkoor sing hier saam met Cantando@Algoa onder leiding van Bouwer van Rooyen by die Hervormingsfees gehou in die Kragga Kamma NG Kerk. Die orrelbegeleiding is waargeneem deur Benji de Lange terwyl Courtleigh Koopman die trompet geblaas het.

13.12.19

Psalm 117


Psalm 117 is getoonset en verwerk vir ‘n vierstemmige koor deur Johan van Eck, ‘n orrelis op Humansdorp, Oos Kaap.  Hierdie opname is gemaak tydens die kerssangdiens in die NG Kerk-kompleks, Jeffreysbaai, 2019.

12.12.19

Psalm 93


Hierdie koorstuk se beryming is geskryf deur oud-koorlid, wyle Jannie Smit en getoonset met vierstemmige harmonie deur nóg ‘n oud-koorlid, Rhoda Vos.

Dit is gesing tydens die hervormingsfees by die NG Kerk, Kragga Kamma in November 2019.

6.12.19

Dennis en Mari tree af

Twee van die Jubelkoor se staatmakerlede, Dennis en Mari Bestbier, het hul uittrede bekend gemaak. Hulle was veertien jaar lank deel van die koor.

Dennis was ‘n sleutelstem in die bas-geledere. Hy het die vertolkingsmetode van elkeen van die etlike sangstukke wat die Jubelkoor al gesing het, onthou.

Verder het hy ‘n fyn oor wat sommer dadelik ‘n wegdwaalnoot kon optel asook die oortreder daarvan kon uitwys. Die manne het na hom opgesien. Hy was as’t ware die “hoofseun” van die basse. Sy plek sal moeilik gevul kan word.

4.12.19

Kerssangdiens, 2019


En watter besonderse, feestelike geleentheid was dit nie!

Die bloedrooi bybehore van die koorlede het die toon aangegee – Dis Kersfees; Vreugde en Vrede vir julle!

Di Sas Swart en Janida van der Westhuizen het die boodskap verder gevoer met gepaste tekste wat die verkondiging van die geboorte van die Saligmaker onderskryf het.

12.11.19

Jaareindfunksie, 2019

See, son en sang!

Dit was die tema van die Jubelkoor se afsluitingsfunksie hierdie jaar.

Die tafels is behang met sandkleurige goiingsak-tafeldoeke en versier met klippe en skulpe van Jeffreys se pragtige strand.

Koorlede het vooraf leë blikkies gebring en Isabel het hulle kunstig versier met sand, skulpe en klein sambreeltjies. Blou, groen en wit serviette is in die versierde blikke gedruk en toe op die tafel geplaas. Die geheelindruk was dié van golwe op die strand.

Plekmatjies met kleurfoto’s van verskeie tonele van Jeffreysbaai se mooi strande het die gaste gou aan die bespiegel gehad oor watter foto dan nou wáár geneem is.

29.10.19

Jubelkoor tree op by Kragga Kamma

“Juig, die Here IS die Koning!” het die Jubelkoor vierstemmig uitbasuin in die pragtige, klankluidende Kragga Kamma NG kerk, waar Hervormingsweek Sondag, 27 Oktober, 2019 gevier is.

Die koor moes reeds om 10:30 per bus na Port Elizabeth vertrek om betyds te wees vir die massakooroefening wat om 12:00 ‘n aanvang sou neem. Hulle is hartlik verwelkom met ‘n koppie koffie en heerlik tuis laat voel deur die Kragga Kamma-gemeentelede. Die Lofsangkonsert het om15:00 begin.

19.9.19

Lentelofdiens, 2019

Sondag, 15 September was 'n pragtige, lenteoggend -- baie gepas vir die Lentelofdiens wat in die NG Kompleksgehou is.

Die koor het die gesamentlike sang vooraf gelei en ook die diens geopen met 'n
vrolike lenteloflied:

Aan God die eer vir blomme en reën;
Die hemel blou, 'n seemeeu in vlug.
Vir al die gawes wil ek U loof!
Aan God die eer.
Dank aan die Heer vir alles wat groei,
Vir planttyd en oestyd en lente wat bloei.
Vir gawes ryk en vry, Aan God die eer!
Aan God die eer vir blomme en reën
Die hemel blou, die branders, die see
Vir al U gawes wil ek U loof.
Aan God die eer!

Ander items wat afgewissel is deur gepaste teksvoorlesing, is spel deur die informele orkes, blokfluitspel deur Amore Coetsee en trompetspel deur Ds. Komatie van Niekerk. Orrelspel en begeleiding van die koor is waargeneem deur Miemie Husselmann.

Die koorlede het aangepas by die lentetema deur pastelkleurige lenteserpe van fyn kant (dames) en satynhemps-sakdoeke te dra. Die geheelprentjie op die verhoog is voltooi met 'n pragtige, pastelkleurige lenteruiker deur Jan de Beer. 
Dié blommerangskikking het ook die vredestema van die diens uitgebeeld.

12.8.19

Jubelkoor op die internet

Die Jubelkoor is nou op die internet. Mense in enige plek in die wêreld kan nou sien wie en wat ons is.  Vertel jou familie en vriende hiervan.  Ons adres is: www.jubelkoor.blogspot.com

Om dit maklik te bereik, kan jy in "Google Search" bloot jubelkoor tik. Vind Jubelkoor Jeffreysbaai en klik daarop.

Om mee te begin, verskyn daar drie berigte. Rol jou muis se wielietjie en ontdek ons.

'n Webjoernaal is normaalweg maklik om te bemeester. Klik hier en daar en kyk wat gebeur.  Niks sal verdwyn nie en jou rekenaar sal niks oorkom nie. Die blou opskrifte langs "TUISBLAD" het waardevolle inligting. Speel rond, klik daarop en ontgin.

Caberet with the choir

Die Jubelkoor. Voor is solis Myra Bosch, koorleier Annatjie Smit
en sanger Emile Minnie.

Onderstaande was geskryf vir die plaaslike koerante as terugvoer aan ons vele Engelse ondersteuners. Dit het in die Our Times en op die Kouga Express se facebookblad verskyn. 'n Soortgelyke berig het in Afrikaans in die kerkblad, Seebries, verskyn.

As a guest of the Jubelkoor, cabaret singer, Emile Minnie, sang warmth into the hearts of his Jeffreys Bay audience on a cold, wintery Sunday afternoon on 24 July 2019 with a combination of his own Afrikaans compositions and a selection of fiery French songs.The event was held in the NG Kerk, Da Gama Road.

11.8.19

Nuwe Koorlede, Augustus, 2019

Ons verwelkom vier nuwe lede wie onlangs by die koor aangesluit het.
Van links af is: Brenda Badenhorst, Roelf Pretorius en Retha en John Morgan.

10.8.19

Webjoernaal van die NG Kerk, Gemeente Jeffreysbaai

Hierdie is die webjoernaal van die Jubelkoor, NG Kerk, Gemeente Jeffreysbaai. Die koor bestaan uit ongeveer 50 lede waarvan 75% dames is. Nuwe lede is altyd welkom, onderworpe aan 'n oudisie deur die koorleier. Die Jubelkoor tree ook op op uitnodiging. Hulle het reeds vier kompakskywe (CD's) laat opneem waarvan snitte al in verskeie radioprogramme uitgesaai is. Kopieë van die CD's is beskikbaar teen R50 elk